Ín Die Stad

wlp2 Ek het nog al my lewe daarvan gehou dat ek nie van die stad hou nie. Dis lelik en eensaam en onpersoonlik. Ek koester nog altyd hierdie idee dat stede plekke is waar mense bymekaarkom om te werk. Om naby aan ‘n stad te woon is ‘n noodsaaklike opoffering.

Daarom het ek ‘n bietjie opgesien daarna om in die sentrum van Amersfoort te kom woon. En nie naby aan Amersfoort nie, ín Amersfoort. Ek sien die kerktoring as ek by my kombuisvenster uitkyk. Ek stap 400 meter kerk toe, 150 meter gym toe, en betaal te veel aan huur om veel anders te doen.

Maar in hierdie klein, dig bevolkte stukkie mensdom word ek herinner aan van my gunsteling avonture. Om pannekoek te verkoop in Boksburg-Noord, om langs die pad sigarette te koop in Sunnyside na skool, om te verdwaal in Sandton tussen die treinstasie en my boetie se kantoor, om te kyk hoe die son opkom in Harlem, New York.

Stede is onpersoonlik en eensaam en lelik, maar hulle is lewendig op ‘n unieke manier. Iets soos ‘n miershoop of byekorf. As jy ‘n baie klein bietjie uitzoom sien jy ‘n persoonlikheid, ‘n gemeenskap, en ‘n baie treffende tipe mooi.

wlp2

Toe ek gister by die kerk uitstap en ‘n plakkaat sien vir ‘n optog oor iets Nederlands, besef ek dat ek my doc Martens en my kamera kan vat en vir ‘n middag gaan fotojoernalis speel. Die demonstrasie was 600 meter van my huis af.

Vir die rekord is ek in geen posisie om ‘n uitspraak te lewer oor die politiek van die saak nie, en ek het buitendien geen behoefte om dit hier te doen nie. Daar is ‘n aanhaling van Max Brooks wat hier nogal mooi met my resoneer:

” I have attempted to reserve judgment, or commentary of any kind, and if there is a human factor that should be removed, let it be my own.”

Al punt wat ek wil maak is dat stede plekke is waar mense bymekaarkom, nie net om te werk nie, maar om alles anders ook saam te doen. Kuns, politiek, die verander van die wêreld. Dat soort dingen.

Ek dink nogsteeds nie ek sal sommer in ‘n stad vestig nie, en nog minder in een wat veel groter is as Amersfoort. Maar as daar ‘n geleentheid kom om vir ‘n jaar of twee in een te gaan woon, kan ek dit beslis aanbeveel.

wlp2 wlp2

Written on February 1, 2022