Hallo Wêreld! Vat musiek saam op die vliegtuig...
Vat musiek saam op die vligtuig… Die deel van my wat ander mense laat sê “o ja, hys mos ‘n jongste kind” wil reeds ander mense leer hoe om te emigreer. Elke keer wat ek iets vergeet, of iets te laat doen, of iets te vroeg doen, of dink ek’s te slim om iets te doen, dan is dit vir my lekker om te dink hoe cool dit gaan klink as ek nog ‘n hot tip met ander voornemende immigrante deel.
Ek het vanaand op ‘n vliegtuig besluit om uiteindelik te begin met die blog waaroor ek al op hoërskool gedreig het. Ek wonder of dit net ‘n ingewikkelde manier is om met myself te praat, want vir die voorsienbare toekoms gaan gesprekke skaars wees. ‘n Mens kan bel, maar oproepe is selde gesprekke.
Vir die laaste paar maande het al my mense my ongelooflik klein laat voel toe hulle my groet. Ek het in hierdie kort tyd meer liefde en bestewense gekry as wat ek dink ek in ‘n leeftyd kan gee.
Ek besef dit is heeltemal anders om alleen oorsee te gaan. Kris Kristofferson het die vlak klofie tussen eensaamheid en vryheid baie beter verken as wat ek ooit sal kan, so ek gaan dit daar laat met die volgende.
“Freedom’s just another word for nothin’ left to lose”
Dit bring my wel by die punt wat ek eintlik vanaand op hierdie vliegtuig wil maak. As jy spotify gebruik, maak seker daar is goeie musiek aflyn beskikbaar. Anders gaan jy op ongemaklike vliegtuig-oorfone ‘n verskeidenheid verken wat selfs jou ma as “mainstream” sal beskryf.