Gesellig

Elke boek, blog en Youtube kanaal oor Nederlandse norme en kultuur vat ‘n hoofstuk, of plasing, of video of twee, en poog om die woord gesellig te definieer. Daar is nie ‘n mooi Engelse vertaling vir die woord nie, en ek het al hierdie afdelings oorgeslaan omdat ek ‘n taal praat wat ‘n perfekte vertaling vir die Nederlandse woord gesellig het, gesellig!
Ek het egter gisteraand besef dat ek dalk ‘n fout gemaak het. Om te verstaan wat die woord gesellig beteken, is nie dieselfde as om te verstaan watter rol gesellig in Nederlandse kultuur speel nie.
Ek bly vir ‘n maand in Culemborg, ‘n redelike klein dorpie buite Utrecht, terwyl ek kyk wat die logistiek om my werk behels, voor ek meer permanente blyplek soek. Op my eerste Vrydagaand in die dorpie het ek besluit om ‘n paar foto’s in die sentrum te gaan neem, maar dit was ongemaklik koud buite, so toe besluit ek om êrens binne foto’s te gaan neem. ‘n Stillerige kroeg (dit was nog nie agtuur nie) het soos ‘n goeie kandidaat gelyk.Na ek amper ‘n €7.30 bier in Amsterdam bestel het, het €2.50 soos die winskopie van die eeu gevoel.
Die res van hierdie aand was effens… Effens onduidelik. Een van my
pelle by die huis was gelukkig die gelukkige wenner van ‘n rits
stemboodskappe wat ek vanoggend kon terugluister om die stukkies van
hierdie vae, gesellige legkaart van ‘n herhinnering hier vas te lê.
Culemborg het twee kroegies, die Heineken kroeg, waar almal Heineken drink, en die Grolsch kroeg, waar almal Heineken uit botteltjies uit drink. Hulle is oorkant mekaar in die hoofstraat, so toe ek my Grolsch gedrink het en my gebroke Nederlands op al drie mense in die kroeg geoefen het, besluit ek om ‘n Heineken oorkant die pad te gaan drink.
Die Heineken kroegie was voller, en dit was vir my ‘n bietjie snaaks, maar die hele kroeg was een langwerpige gesprek. Om by die kroegtoonbank te gaan sit het so ‘n bietjie gevoel soos om by vreemde mense se tafel in ‘n restaurant te gaan sit. Daar was redelike duidelike sosiale druk om myself voor te stel. Dit was glad nie afsydig of aggressief of iets nie, inteendeel! Dit was gesellig…
Almal wou weet hoekom daar ‘n kamera om my nek hang, en of ek hulle wil afneem. Almal wou weet of ek koudkry. Almal wou weet hoekom hulle my soortvan kan verstaan na ek net twee weke in die land is. Almal wou koop-om-die-beurt-bier-tot-ons-ons-eie-name-vergeet speel. Van die ongeveer 80 foto’s wat gisteraand geneem is, is een in fokus, en ek het hom nie eers geneem nie.

Dit was uiteraard ‘n ongelooflike lekker aand, maar wat vreemd is, en by my vassteek is hoe anders dieselfde kulturele norme kan voel as hulle van toepassing is op absolute vreemdelinge. Die grappies en speletjies en etiket van hoe ‘n kuier werk is byna identies aan enige Suid-Afrikaanse een, maar dit voel anders om deel te neem, en aangemoedig te word om deel te neem, as jy nie ‘n enkele persoon daar ken nie. Dit is die naaste wat ek kan kom aan verduidelik wat hulle bedoel met geselligheid.
En nou het my blog óók ‘n plasing oor die konsep en oor hoe dit onmoontlik is om te beskryf aan iemand wie dit nog nie beleef het nie…