Valse Vriend Opgewonde

In Nederlands kom ‘n mens van tyd tot tyd op ‘n woord af wat lyk soos ‘n Afrikaanse woord, maar ‘n betekenis het wat soms tot vulgêre of komiese gevolge kan lei. Ons almal weet dat meeste van die heel lelikste woorde in Afrikaans redelik algemeen en aanvaarbaar is in Nederlandse geselskap, maar die eintlike edelstene is woorde waarvan die betekenis baie subtiel verskil, of selfs net ander konnotasies het. Ek kan nie onthou wie nie, maar ‘n ander immigrant blogger op wie ek ‘n ruk terug afgekom het, noem hierdie woorde “Valse Vriende”.

Ek begin in April met ‘n nuwe projek by die werk, en het vandag in ‘n algemene weeklikse vergadering een van my base laat weet dat ek nogal opgewonde is oor die nuwe projek. Die eerste leidraad was dat elke Nederlander dadelik uitgebars het van die lag. Die voorsitter bevestig toe dat ek ‘n fout gemaak het: “wij zeggen niet opgewonde, wij zeggen ik ben enthousiast”.

Toe ek die woordeboek raadpleeg, sien ek dat die woord opgewonde basies dieselfde betekenis het, maar dat die konnotasie suiwer… vleeslik is. In die Dikke van Dalen:

op.ge.won.den<bn.;~heid>0.1 in een overprikkelde toestand.

So dit wil voorkom dat ek die voorsitter laat weet het dat ek baie, baie opgewonde is oor die projek.

NS Hierdie is die eerste plasing in ‘n kategorie Valse Vriende, hopelik is daar uiteindelik ‘n lysie van snaakse en interessante woorde bymekaar.

Written on October 5, 2022