Waterloopleinmark
Omdat ek redelik baie tyd en redelik min geld het, het ek vir my eerste dag in Amsterdam besluit om die openbare vervoer uit te figure en net ‘n bietjie rond te dwaal. My enigste doelwit was om ‘n gevoel te kry vir tweedehandse fietspryse. Een of ander blog het die Waterlooplein mark aanbeveel, en die metro-stop was naby, so toe gaan ek soontoe.
Toe ek daar aankom sien ek dat hulle besig is om te bou aan die plein self, maar daar was nog heelwat stalletjies aan sy agterkant. Daar was net een of twee fietshandelaars, baie tweedehandse, gesteelde en nagemaakte klere, en redelike cool boek en LP stalletjies.
Ek het om die Rembrandtplein ook gestap, maar dit het vir my net gevoel soos ‘n lelike toeristelokval. Dit sou seker beter gaan as ek later daar was, en bietjie meer navorsing gedoen het oor die besienswaardighede. Maar al wat ek gesien het is duur, lelike kroeë en coffeeshops wat die dagga-is-soortvan-wettig dam onder die eend uitruk.