Was vanoggend vir die eerste keer kerk toe

Ek het vanoggend besluit om te begin om Nederland se verskillende protestantse denominasies te verken, en google maps het gesê die naaste diens is by die PKN Beverwijk. Google maps het egter vir my gejok en die diens was aan die ander kant van die dorp. Toe ek twintig minute laat opgedaag het, is die voordeur gesluit, en toe ek uiteindelik ‘n oop kantdeur kry het ‘n genadige tannie ‘n liedboek in my hand gestop en my al fluisterend by die troue verwelkom.

Dit wil voorkom dat troues hier baie dieselfde werk as ‘n doop by die huis. Dis ‘n gewone erediens, en aan die einde word ‘n formulier voorgehou en dan is die mense getroud. Vinnig, maklik, ek is reeds ‘n fan.

Na die diens (en voor die troue) sê die powerpoint iets soos “Rina: Persoonlijke Woord”, en ‘n dame begin vorentoe stap met haar loopring-toestel-ding. Toe sy voor kom (ek en die orrelis het getel, dit het drie liedjies gevat) is dit vir my duidelik dat hierdie tannie baie bly is oor die troue. Ek kan sien sy het nie gedink haar kind gaan betyds trou vir haar om dit te sien nie. Sy is beslis al aan in jare. Wat ‘n voorreg.

Halfpad deur haar “Persoonlijke woord” is iets egter nie pluis nie. Toe sy vir die derde keer in ‘n toespraak by ‘n troue verwys na haar ma se afsterwe (ek dink dit was in die tweede wêreldoorlog) besef ek dat tannie Rina vandag die gelukkige wenner van ‘n nuwe stiefma is. Dis toe dat ek besef dat ek by vêr die jongste persoon in die kerk is.

Toe ek die paartjie uitken besef ek dat hulle seker vir belastingdoeleindes trou, want ek kan nie sien hoe hulle in enige vorm van sonde sou kan leef nie. Hulle is (en hierdie keer oordryf ek nie eers nie) vorentoe gestoot in hulle rolstoele en vier gemeentelede het hulle vir ‘n oomblik uitgetel sodat die dominee die seën oor hulle kon uitspreek. Na die seremonie het die bruid se kleindogter haar bril gesoek sodat sy die bedankings kon doen.

Die mense in hier is oud… Ek weet nie of dit net die buurte is wat ek in die laaste dag of drie verken het nie, maar hier is amper soveel loopring-toestelle soos fietse. Die mense ontwaak eers so elfuur, en ek sien nie dat veel mense na sewe in die aand iets doen nie. Jy kan deur hulle sitkamervensters sien hoe hulle koffie drink en nuus kyk.

Dis seker ‘n kombinasie van die goeie gesondheidsorg en rustige werk-kultuur wat mense afgetree laat lyk op 35. Dit pla nie juis nie, dis baie rustig en veilig, maar ek gaan beslis môre kyk of ek ‘n buurt kry met ‘n gemiddelde ouderdom onder 65.

Written on October 24, 2021